Ek weet nie of ek net baie ongelukkig is nie, maar in die
laaste maand was ek op drie busse waar iemand opgegooi het. Elke keer voor. En
elke keer het die busdrywer so gou versnel dat ek my voete moes oplig teen die
tyd wat ek by my bestemming kom. Dit maak ook sin dat so baie mense op die
busse naar word, want die busdrywers ry soos besetenes. Hier bid mens nie dat
jy veilig by jou bestemming kom nie. Jy bid dat jy veilig rondom die volgende
draai gaan. Ek kon nog nie uitwerk of hulle Suid-Afrikaanse taxibestuurders
invoer om hul busdrywers op te lei of andersom nie.
Die laaste twee weke in die lab was nogals rof. Omdat ek nog
nooit voorheen in ‘n lab gewerk het nie en nie een van die lab-assistente
Engels praat nie neem als 3 keer langer as wat dit moet. Stadig maar seker kry
ek egter my menge reg en ek behoort teen die einde van volgende week my
bakstene klaar te hê. Dan begin die pret.
Vis en tjips naby Prainha |
Laas naweek was ek die eerste keer in Lapa. Dis nou die area
waar al die bars, sambaklubs en transvestiete is. Daar’s omtrent elke aand een
of ander show aan en oor naweke sluit hulle die paaie so mens kan loop waar jy
wil. Die hele plek voel soos ‘n sirkus gekruis met ‘n kerk basaar (sonder
dominees). Daar’s allerhande straatstalletjies met vreemde kosse, mense wat
op stelte rondloop,
mense wat op straat guitar speel en kinders wat peanuts verkoop.
Die stad het etlike kilos se “boardwalks” en Sondae sluit
hulle die strate langs die strande, so daar’s honderde mense wat fietsry,
skaatsplank en rolskaats langs die see. In ‘n poging om die Carioca “way of life” aan te gryp het ek
dit goedgedink om ‘n skaatsplank aan te skaf. En wat ‘n kopie was dit nie. My
vriende by die universiteit sê egter ek het myself nou net nog meer as ‘n gringo gebrandmerk. Die laaste 2 dae
het hierdie gringo homself egter
gebrandmerk deur heeldag in die son te skaats sonder sonsalf…
Skateboard op Praia de Botafogo |
Een van die vreemde goed wat mens van Rio kan opmerk is die
totale afwesigheid van enige tipe weer, alhoewel dit dalk kan wees omdat ek
gewoond is om 3 seisoene in ‘n dag in die Kaap te ervaar. Elke dag hier is
presies dieselfde. Warm en bedompig met bietjie reën 5h in die middag. Nog nie
een keer sedert ek hier aangekom het, het die wind gewaai nie.
Nog ‘n vreemde ding van die stad is dat baie van die geboue
heeltemal oorgetrek is met muskietnette. Die gevolgtrekking wat ek gemaak het
is dat muskiete hier so gevaarlik is dat hulle selfs vir die geboue malaria kan
gee. En as ek kyk hoe my bene lyk in die oggende sou ek sê my
gevolgtrekking is nie te ver vergesog nie.
Wat die ander kos hier betref is boontjies en rys aan die orde van die dag, elke dag, minstens twee maal 'n dag. Arroz branco e feijao preta noem hulle dit. En die ander kos word meestal ge-"deep fry" in olie of suiker (so proe dit). Ek sou sê, buiten die ongelooflike verskeidenheid vrugte en sappe, is die kos eintlik maar heel plein. Nie sleg nie, net plein. Daar is, soos by die huis, baie Europese en Oosterse eetplekke en 'n vreemde afwesigheid van Amerikaanse burger "joints".
Die Portugese invloed is ook goed sigbaar in hulle brood. Ek het al 'n hele Saterdag middag in een bakkery spandeer en net brood geëet. Net jammer dit kos omtrent R4,50 vir 'n bun.
Nog 'n vreemde eetgewoonte wat die Brasileiros het is om 'n tipe meel by hul kos te gooi. Die swartboontjies is gewoonlik baie souserig en die meel trek baie van die vloeistof op. Dit klink vreemd, maar dit loop. Daar's gewoonlik 4 of 5 tipes om van te kies, elk met sy eie smaak, tekstuur en kleur.
Ek skat buiten die mense is ‘n stoute skaaptjoppie die ding wat ek die meeste mis van die huis. Ek kon nog nêrens skaapsvleis opspoor nie, om nie eers te praat van 'n bietjie chutney vir 'n BBQ-broodjie nie. Hulle het egter 'n guava jam tipe ding wat my baie aan chutney herinner. Ek sal dit nog met my braaibroodjies moet uitprobeer.
In die woorde van die wyse Hog Hoggidy Hog: “I might seem out of place here, but everything I hold dear is under the African sun.”