Tuesday, 27 March 2012

Van bier en busry

Ek het nog altyd baie van speletjies gehou. Rummy, poker, 30 seconds, mafia.....ek het selfs al tot op vlak 36 gegaan met Jenga en Monopoly klaargemaak. Maar om vir 2 weke aaneen Charades te speel is geen grap nie. So ek't besluit om myself in te skryf vir 'n Portugees klas. Ek't laas Donderdag begin en ons is 5 in die klas. 'n Russiese professor, 'n Japanese skrywer, 'n Chinese besigheidsvrou, 'n Duitse programmeerder en ek. As ons die Braziliaanse onderwyser insluit kort ons net 'n Indiese telefoonoperateur om al die BRICS lande te verteenwoordig. Niemand van hulle kan my naam uitspreek nie, so ek het die bynaam Kaká gekry (dis blykbaar oor ek baie soos die Brasiliaanse sokkerster lyk, niks te doen met hoe ek Portugees praat nie).

Uitsig vanaf Christo Redentor

Kamer lessenaar - als wat lekker is
Verlede Vrydag het ek my eerste Braziliaanse partytjie bygewoon. En wat 'n fees was dit nie - die Cariocas (oftewel Rio de Janeiraners) ken van partytjie hou. Omdat niemand op kampus bly nie en almal afhanklik is van busse (wat 23:00 ophou ry), maak die partytjies lekker vroeg klaar. So jy's voor twaalf in die bed en reg om 7h die volgende oggend op die strand te wees. Die bier hier is nie juis veel om oor huistoe te skryf nie (alhoewel ek nou maar gaan), maar dis ten minste relatief goedkoop en klaarblyklik slegte smaak om enigiets kleiner as 'n quart te koop.
Ek het laasweek by my flat ingetrek. Of dis eerder 'n kamer. Dis in 'n outydse herehuis met 19 kamers waarvan hulle 15 uithuur, meestal aan buitelanders. Hier's ook 'n ander Suid-Afrikaner, maar hom moet ek nog ontmoet. Hy't minstens al vir almal leer 'braai' sê eerder as 'BBQ'. En dis belangrik, want dit gebeur elke donderdag. Die huishulp (ek kan nie sy naam sê nie so ek noem hom maar Eddie) was eenkeer 'n week my wasgoed en maak elke oggend vir my koffie. So ek voel heel tuis.

Die pad op Christo Redentor toe
Ek het Saterdag saam paar mense in die huis tot by Christo Redentor gestap. Dis nou die Christusbeeld. In my lewe het ek nog nooit so lank aan so kort afstand gestap nie. Maar ons het deurgedruk en 5 ure later was ons bo. Daar's allerhande apies en eekhoring tipe goed in die bome oppad op. Die beeld is bitter groot en daar's selfs 'n klein kerkie in die voete, met plek vir so 9 of 10 mense. Maar die beste ding van daar bo wees die hoeveelheid toeriste wat met arms wyd oop staan en poseer vir foto's. Die uitsig vanaf daar bo is ongelooflik en ek't reeds 'n paar berge geidentifiseer wat geklim gaan word.
Laasweek het ek die universiteits kafeteria ontdek. En wat 'n vonds was dit nie! Vir R$2 (net onder R9) kry jy 'n bord met rys en boonjies (die stapelkos hier), groente en een of ander vleis, 'n bakkie slaai, 'n bakkie vrugte en 'n sappie. So dis waar ek middagetes en aandetes uithang. Dis sover my heel gunsteling plek in die stad. Verder het ek het ook die Acai bessie ontdek. Dis 'n bessie wat net in die Amasone voorkom wat hulle 'n tipe van slushy/roomys/sap ding van maak. En dis propvol vitamines en proteine. Mens sien gereeld  bodybuilders op die strand-gyms besig om die goed te eet. So ek laai hulle in...
Ek en Christo Redentor

Wat minder fantasties is is die pad universiteit toe en terug. Ek moet metro en bus ry om daar uit te kom en dit neem so uur en 'n half om soontoe te gaan en gewoonlik twee ure terug. Die son sak ook relatief vroeg so en sien maar min van hom in die week. My roetine bestaan uit 6h30 opstaan, 9h inval by die lab, 10h30 middagete (dis luuks, kannie glo ekt nog nooit voorheen dit so vroeg gedoen nie), en dan is dit die lang middagskof tot 18h.

Sover is elke dag in die Cidade Maravilhosa 'n avontuur op een of ander manier. Daar's nuwe woorde, kos, mense, strande, berge...en natuurlik ook nuwe oomblikke waar ek my naam gat maak. Dit het my twee weke se busry en heelwat vreemde kyke gekos om agter te kom die toutjie bo die paal waaraan mens vashou in die bus (waarmee ek nog heeltyd so lekker speel) , die alarmpie laat afgaan wat die bus laat stop. Ek het ook agtergekom hoekom dit vir my voel daar's baie oumense in die stad. Die ry in die supermark vir mense met minder as tien items is toe al die tyd eintlik vir gestremdes en pensioenarisse...




Thursday, 15 March 2012

Om te kaalvoet of te nie

Ek oorweeg dit om die naam van my blog te verander, want hierdie kaalvoet ding werk net nie uit nie. Die ding is net visplakkiesinrio klink nie so goed nie. Die naam was eintlik van die begin af gedoem, want stede is uiteraard maar vuil. In Kaapstad, byvoorbeeld, loop jy die gevaar om in ‘n gebreekte gloeilamp te trap. In Beijing kry jy afslag by ‘n taxi as jy eers spoeg voor jy inklim. Rio, aan die ander kant, se teer kan eiers kook en dis die stad met die meeste landmyne per kilometer sypaadjie in die wêreld. En hulle het gesê Angola is gevaarlik…


Sugarloaf Mountain gesien vanaf Praia do Botafogo
Die laaste paar dae het ek my verkenning van die stad voortgesit. Ek dink ek ken die strate nou al beter as Kaapstad s’n (selfs al kan ek nie hul name uitspreek nie). Ek het dit al gewaag om ‘n paar keer bus te ry (die eerste keer was ‘n sirkelroete, so ek’t weer afgeklim waar ek begin het, net om veilig te wees). Dit werk heel goed, maar kan duur wees op kort ritte – R12.40 ongeag hoe ver jy ry. Die metro is ook heel plesierig, maar dis ‘n gemors in spitstyd, met mense wat letterlik bo-op mekaar klim om in te pas. Dit voel bietjie soos taxi-ry in Suid-Afrika. Ek het ook gister 'n man in die stad teen 'n boom sien piepie, toe voel ek heel tuis.
Saterdag sou ek gaan "paraglide" het, maar die weer was bietjie onguur. Die wind het 4km/h gewaai in plaas van die normale 2km/h. Sou nie daai risiko wou vat nie. As ek terugkyk is dit seker ‘n goeie ding, want dinge (veral verblyf) is aansienlik duurder as verwag en geld mag dalk knap wees in die toekoms. Daar’s ook ‘n paar versteekte kostes waarvan ek eers hier uitgevind het. Byvoorbeeld, om my visa te laat ‘aktiveer’ moet ek ‘n afspraak by die polisie gaan maak en R1000 se “foreigner tax” betaal. Ek het besluit om my baard te hou, my hare swart te kleur en die kans te vat….moet nog net aan die aksent werk.
Sonsondergang op Praia do Flamengo



Ek was Maandag vlugtig by die universiteit en het Woensdag offisieel begin. Die universiteit is op ‘n eiland so 20 km van waar ek bly. Die lab waar ek werk is baie indrukwekkend en dit voel meer soos ‘n hospitaal as ‘n plek waar ek gaan bakstene maak. Dit lyk asof die meeste mense in die lab Engels verstaan. Of hulle weet minstens hoe om hulle koppe te knik op die regte tye. Dis darm iets wat ons in gemeen het.
Wat verblyf betref het ek ewe skielik baie opsies. Die eerste opsie is om te kamp in 'n tannie se agterplaas vir 'n week tot daar 'n kamer in haar huis oopgaan. Die kamer is bietjie duur, maar sy was my wasgoed. Ek kan ook saam 'n Peruviaanse musikant en sy meisie bly. Hul huis is bietjie nader aan die metro, en hulle het 'n wasmasjien. Laastens is daar die opsie om 'n kamer te deel met 'n surfer in Copacabana. Dit sal egter my reis universiteit toe met 'n halfuur verleng en hy het nie 'n wasmasjien nie. Ek het so gevoel dat dit wasgoed is, en nie geld of tyd, wat op die ou end gaan bepaal waar ek bly.
Backpackers survival pakket

Ek het die geluk van die eeu getref by die hostel waar ek bly. Die laaste drie dae het ek 'n hele dorm kamer vir myself - ja dit beteken 'n ander bed elke aand vir 'n week. Ek het ook my versteekte rooibos tee ontdek, so dis tyd om die mense van Brazil op te voed.


Saturday, 10 March 2012

Eerste dag in die skadu van Christo Redentor

En so begin die groot avontuur. Dis nou wel 6 weke later as beplan, maar eks hier nietemin....


Die eerste ding van Rio wat mens opmerk is nie die beeldskone strande, die Christusbeeld wat oor die stad waghou of hoe mens nie 'n woord kan verstaan wat enigiemand sê nie. Nee, dis eerder die enorme hoeveelheid oumense in die stad. Daar is letterlik 'n pensioenaris om elke hoek en draai. En skaam is hulle nie, want knapse bikini's en speedo's is aan die orde van die dag.

En dit maak sin, want hierdie stad is warm. En humied. Ek was nog nooit iemand vir gebottelde water koop nie, maar in my eerste dag hier het ek R60 se water opgedrink. En dit was elke sent werd. Mens moet drie keer per dag stort net om mens te voel. Maar een keer is genoeg vir my.

Ek het vandag groot gegaan op geldspaar (buiten die water natuurlik) en besluit om die stad te voet gaan verken. Eintlik was ek net te bang om op 'n bus te klim, want as ek my rigting vir n oomblik sou verloor, het ek vanaand op straat geslaap.

My missie vir die dag was om my simkaart te laat werk en na twee woonstelle te gaan kyk. Mens kort egter 'n tipe van belastingnommer om 'n simkaart te registreer en sonder 'n foon kon ek nie na die woonstelle gaan kyk nie.

So foonloos en pennieloos (ek kon nog nie 'n ATM opspoor waar my kaarte werk nie)  het ek maar net gaan verken. Maar die stad is enorm en soos ek hier sit kan ek voel dat visplakkies nie die nodige ondersteuning vir jou enkels bied nie. So more is dit kaalvoet. In Rio.

Geldsake

Om 'n oorsese trippie te reël neem meer tyd op as wat jy sou dink. En geld. 'n Mens is geneig om te dink jy gaan die meeste van jou geld in die ander land spandeer (en jy gaan), maar groot was my skok toe ek begin optel presies wat ek al spandeer het voor ek nog op die vliegtuig was.

Eerstens was die visum en vir die kort jy n polisie klaring ('n dokument wat sê jy het nie 'n kriminele rekord nie). Teen R59 is dit van die goedkoper uitgawes, maar tel die koerierskoste (R130) by en dis 'n ander storie. En natuurlik gaan hulle my aansoek verloor so maal daai bedrag met twee. Verder het ek twee paspoort fotos (R30) nodig gehad en die visum self was R400.

Tweedens was die vliegtuigkaartjie. Teen R9662 was hy duur, maar die kos was lekker en die lugwaardinne mooi genoeg om dit die geld werd te maak. En vir 'n 7 dae vooruit bespreekte kaartjie is dit orraait.

Blykbaar is reisigersversekering ook 'n moet en teen R1452 nie 'n uitgawe waarmee ek in my noppies was nie. Dit dek diefstal, gekanselleerde vliegkaartjies en mediese onkostes. Kom ons hoop dit was 'n onnodige uitgawe...

Laastens was al die ritte Kaapstad toe (4 keer vir die visum en een keer vir die vliegkaartjie). Teen so R90 per rit was dit R450 in totaal.

So my totale onkostes voor ek nog 'n voet in Brasil kon sit was R12372. Meer geld as wat ek  nog ooit kon spandeer.