Thursday, 15 March 2012

Om te kaalvoet of te nie

Ek oorweeg dit om die naam van my blog te verander, want hierdie kaalvoet ding werk net nie uit nie. Die ding is net visplakkiesinrio klink nie so goed nie. Die naam was eintlik van die begin af gedoem, want stede is uiteraard maar vuil. In Kaapstad, byvoorbeeld, loop jy die gevaar om in ‘n gebreekte gloeilamp te trap. In Beijing kry jy afslag by ‘n taxi as jy eers spoeg voor jy inklim. Rio, aan die ander kant, se teer kan eiers kook en dis die stad met die meeste landmyne per kilometer sypaadjie in die wêreld. En hulle het gesê Angola is gevaarlik…


Sugarloaf Mountain gesien vanaf Praia do Botafogo
Die laaste paar dae het ek my verkenning van die stad voortgesit. Ek dink ek ken die strate nou al beter as Kaapstad s’n (selfs al kan ek nie hul name uitspreek nie). Ek het dit al gewaag om ‘n paar keer bus te ry (die eerste keer was ‘n sirkelroete, so ek’t weer afgeklim waar ek begin het, net om veilig te wees). Dit werk heel goed, maar kan duur wees op kort ritte – R12.40 ongeag hoe ver jy ry. Die metro is ook heel plesierig, maar dis ‘n gemors in spitstyd, met mense wat letterlik bo-op mekaar klim om in te pas. Dit voel bietjie soos taxi-ry in Suid-Afrika. Ek het ook gister 'n man in die stad teen 'n boom sien piepie, toe voel ek heel tuis.
Saterdag sou ek gaan "paraglide" het, maar die weer was bietjie onguur. Die wind het 4km/h gewaai in plaas van die normale 2km/h. Sou nie daai risiko wou vat nie. As ek terugkyk is dit seker ‘n goeie ding, want dinge (veral verblyf) is aansienlik duurder as verwag en geld mag dalk knap wees in die toekoms. Daar’s ook ‘n paar versteekte kostes waarvan ek eers hier uitgevind het. Byvoorbeeld, om my visa te laat ‘aktiveer’ moet ek ‘n afspraak by die polisie gaan maak en R1000 se “foreigner tax” betaal. Ek het besluit om my baard te hou, my hare swart te kleur en die kans te vat….moet nog net aan die aksent werk.
Sonsondergang op Praia do Flamengo



Ek was Maandag vlugtig by die universiteit en het Woensdag offisieel begin. Die universiteit is op ‘n eiland so 20 km van waar ek bly. Die lab waar ek werk is baie indrukwekkend en dit voel meer soos ‘n hospitaal as ‘n plek waar ek gaan bakstene maak. Dit lyk asof die meeste mense in die lab Engels verstaan. Of hulle weet minstens hoe om hulle koppe te knik op die regte tye. Dis darm iets wat ons in gemeen het.
Wat verblyf betref het ek ewe skielik baie opsies. Die eerste opsie is om te kamp in 'n tannie se agterplaas vir 'n week tot daar 'n kamer in haar huis oopgaan. Die kamer is bietjie duur, maar sy was my wasgoed. Ek kan ook saam 'n Peruviaanse musikant en sy meisie bly. Hul huis is bietjie nader aan die metro, en hulle het 'n wasmasjien. Laastens is daar die opsie om 'n kamer te deel met 'n surfer in Copacabana. Dit sal egter my reis universiteit toe met 'n halfuur verleng en hy het nie 'n wasmasjien nie. Ek het so gevoel dat dit wasgoed is, en nie geld of tyd, wat op die ou end gaan bepaal waar ek bly.
Backpackers survival pakket

Ek het die geluk van die eeu getref by die hostel waar ek bly. Die laaste drie dae het ek 'n hele dorm kamer vir myself - ja dit beteken 'n ander bed elke aand vir 'n week. Ek het ook my versteekte rooibos tee ontdek, so dis tyd om die mense van Brazil op te voed.