Saturday, 10 March 2012

Eerste dag in die skadu van Christo Redentor

En so begin die groot avontuur. Dis nou wel 6 weke later as beplan, maar eks hier nietemin....


Die eerste ding van Rio wat mens opmerk is nie die beeldskone strande, die Christusbeeld wat oor die stad waghou of hoe mens nie 'n woord kan verstaan wat enigiemand sĂȘ nie. Nee, dis eerder die enorme hoeveelheid oumense in die stad. Daar is letterlik 'n pensioenaris om elke hoek en draai. En skaam is hulle nie, want knapse bikini's en speedo's is aan die orde van die dag.

En dit maak sin, want hierdie stad is warm. En humied. Ek was nog nooit iemand vir gebottelde water koop nie, maar in my eerste dag hier het ek R60 se water opgedrink. En dit was elke sent werd. Mens moet drie keer per dag stort net om mens te voel. Maar een keer is genoeg vir my.

Ek het vandag groot gegaan op geldspaar (buiten die water natuurlik) en besluit om die stad te voet gaan verken. Eintlik was ek net te bang om op 'n bus te klim, want as ek my rigting vir n oomblik sou verloor, het ek vanaand op straat geslaap.

My missie vir die dag was om my simkaart te laat werk en na twee woonstelle te gaan kyk. Mens kort egter 'n tipe van belastingnommer om 'n simkaart te registreer en sonder 'n foon kon ek nie na die woonstelle gaan kyk nie.

So foonloos en pennieloos (ek kon nog nie 'n ATM opspoor waar my kaarte werk nie)  het ek maar net gaan verken. Maar die stad is enorm en soos ek hier sit kan ek voel dat visplakkies nie die nodige ondersteuning vir jou enkels bied nie. So more is dit kaalvoet. In Rio.