Om 'n oorsese trippie te reël neem meer tyd op as wat jy sou dink. En geld. 'n Mens is geneig om te dink jy gaan die meeste van jou geld in die ander land spandeer (en jy gaan), maar groot was my skok toe ek begin optel presies wat ek al spandeer het voor ek nog op die vliegtuig was.
Eerstens was die visum en vir die kort jy n polisie klaring ('n dokument wat sê jy het nie 'n kriminele rekord nie). Teen R59 is dit van die goedkoper uitgawes, maar tel die koerierskoste (R130) by en dis 'n ander storie. En natuurlik gaan hulle my aansoek verloor so maal daai bedrag met twee. Verder het ek twee paspoort fotos (R30) nodig gehad en die visum self was R400.
Tweedens was die vliegtuigkaartjie. Teen R9662 was hy duur, maar die kos was lekker en die lugwaardinne mooi genoeg om dit die geld werd te maak. En vir 'n 7 dae vooruit bespreekte kaartjie is dit orraait.
Blykbaar is reisigersversekering ook 'n moet en teen R1452 nie 'n uitgawe waarmee ek in my noppies was nie. Dit dek diefstal, gekanselleerde vliegkaartjies en mediese onkostes. Kom ons hoop dit was 'n onnodige uitgawe...
Laastens was al die ritte Kaapstad toe (4 keer vir die visum en een keer vir die vliegkaartjie). Teen so R90 per rit was dit R450 in totaal.
So my totale onkostes voor ek nog 'n voet in Brasil kon sit was R12372. Meer geld as wat ek nog ooit kon spandeer.